Wiskundekompetisie 2019 – Reëls en regulasies

1) Enige leerder wat gedurende 2019 in graad 6 of 7 is, kan aan die Wiskundekompetisie vir laerskoolleerders 2019 deelneem. Vir die hoërskoolkompetisie kan enige leerder wat gedurende 2019 in graad 10, 11 of 12 is, deelneem.

2) Deelname is gratis en die vraestelle sal in Afrikaans wees.

3) Deelname word beperk tot leerders in skole van die Wes-en Oos-Kaap, Gauteng en Vrystaat in publieke en private skole. Geen tuisskole of wiskundesentrums se leerders kan vir die kompetisie inskryf nie.

4) Daar sal twee vraestelle wees: een vir laerskoolleerders en een vir hoërskoolleerders.

5) Die kompetisie bestaan uit twee rondes: uitdunronde wat aanlyn by skole geskryf word en ʼn finale ronde wat in Kaapstad, Gauteng en Vrystaat afgelê sal word. Sien punt no. 16.

6) Skole en/of wiskunde-onderwysers moet deelnemende leerders voor/op 1 Mei 2019 aanlyn registreer. Volg die onderstaande registrasieprosedure:

6.1) Registreer by www.cumlaudemedia.com*. (Vir die laerskoolkompetisie klik op die laerskoolinskrywingsblokkie. Vir die hoërskoolkompetisie klik op die hoërskoolinskrywingsblokkie.)

6.2) Die registrasieproses vir die laerskool sluit 2 Mei om 17:00. Vir die hoërskoolleerders sluit registrasies op 9 Mei om 17:00

6.3) Leerders kan self registreer of onderwysers kan leerders registreer.

6.4) Indien die registrasie suksesvol was, sal elke leerder ‘n bevestigende e-pos met inligting oor die wiskundekompetisie ontvang.

6.5) Onderwysers sal voor die uitdunronde ‘n e-pos ontvang van leerders wat geregistreer het.

6.6) Die uitdunrondes vind plaas op 3 Mei (laerskool) om 14:00 en op 10 Mei (hoërskool) om 14:30. Die skakel na die vraestel sal dan aktief wees. Leerders klik dan op die skakel (wat vroeër per e-pos aan hulle gestuur is) om die toets af te lê.

7) Leerders beantwoord 20 vrae. Hulle kry 60 minute om die vrae te beantwoord. Ons vra dat ʼn personeellid van die skool toesig hou (eksamentoestande geld) vir die duur van die kompetisie.

7) Deelnemende skole moet verseker dat deelnemers betroubare toegang tot die internet het, asook genoeg rekenaars waarop leerders kan skryf.

8) Die uitdunrondes sal op 3 Mei 2019 (laerskoolleerders) en 10 Mei 2019 (hoërskoolleerders) aanlyn by deelnemende skole afgelê word.

9) Skole moet verseker dat die uitdunronde onder behoorlike toesig (eksamentoestande) afgelê word. Geen sakrekenaars of aanlynrekenaars mag gebruik word nie. Slegs ʼn potlood en skoon papier (om berekeninge op te doen) is toelaatbaar.

10) Dit is skole se verantwoordelikheid om seker te maak die skool se “firewalls” en sekuriteitstelsels blokkeer nie die webwerf nie. Skole moet ook Chrome of Firefox as bedryfstelsel gebruik vir optimale funksionering van die webwerf.

11) Leerders kan die uitdunronde ook op tablette of selfone (onder toesig) aflê.

12) Die vraestel vir die uitdunronde bestaan uit 20 vrae. Leerders het 60 minute om die vraestel te voltooi.

13) Leerders se individuele tye wat dit neem om die vraestel te voltooi, sal ook in ag geneem word. Verkeerde antwoorde sal negatief gemerk word. Indien daar meer as een leerder is wat tydens die uitdunronde/finale ronde 100% behaal het, sal die vinnigste tyd die volgende oorwegende faktor wees by die bepaling van die finaliste/wenner.

14) Sestig finaliste per laer- en hoërskoolkompetisie, sal uitgenooi word na die finale ronde. Finaliste moet bereid wees om aan die finale ronde op 27 Julie in Kaapstad (Hoërskool Brackenfell), Gauteng (Hoërskool Florida) of Vrystaat (Hoërskool Sentraal) deel te neem. Reis-en verblyfkostes sal vir die finalis se eie rekening wees.

15) Elke finalis wat die finale ronde bywoon, ontvang ʼn kontantprys van R1 000 asook ʼn sertifikaat van deelname.

16) Die finale ronde sal op Saterdag 27 Julie, in die Wes-Kaap (Hoërskool Brackenfell), Gauteng (Hoërskool Florida) en Vrystaat (Hoërskool Sentraal) plaasvind.

17) Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.

18) Geen individuele terugvoer sal aan deelnemers gegee word nie. Algemene terugvoer kan wel aan die deelnemende skool gestuur word.

19) Die organiseerders behou hulle die reg voor om nie al die pryse toe te ken nie en hulle beslissing is finaal.

20) Media24/Die Burger/Beeld/Volksblad/Netwerk24/Cum Laude Media behou hom die reg voor om foto’s van die finaliste te publiseer (gedruk of aanlyn). Dit kan ook in toekomstige bemarkingsmateriaal gebruik word. Deelnemers/finaliste sal nie vergoeding daarvoor ontvang nie.

21) Prysgeld (Nasionale wenners):

Laerskool:

*1ste plek: R15 000 (leerder) & R15 000 (skool)

*2de plek: R10 000 (leerder) & R10 000 (skool)

*3de plek: R5 000 (leerder) & R5 000 (skool)

Indien van die plekke gedeel word, sal die bedrag gelykop gedeel word.

Hoërskool

*1ste plek: R20 000 (leerder) & R20 000(skool)

*2de plek: R15 000 (leerder) & R15 000 (skool)

*3de plek: R10 000 (leerder) & R10 000 (skool)

Indien van die plekke gedeel word, sal die bedrag gelykop gedeel word.

22) Prysgeld (Provinsiale wenners):

Laerskool:

Die wenner van die laerskoolkompetisie ontvang R3 000. Tweede plek: R2 000 en derde plek: R1 000. Indien van die plekke gedeel word, sal die bedrag gelykop gedeel word. Indien van hierdie plekke beklee word deur nasionale wenners, sal die leerder slegs die nasionale prysgeld ontvang

Hoërskool:

Die wenner van die hoërskoolkompetisie ontvang R5 000. Tweede plek: R3 000 en derde plek: R2 000. Indien van die plekke gedeel word, sal die bedrag gelykop gedeel word. Indien van hierdie plekke beklee word deur nasionale wenners, sal die leerder slegs die nasionale prysgeld ontvang.

23) Skole/Leerders wat hul aan oneerlike praktyk skuldig maak, se inskrywings sal outomaties gediskwalifiseer word. Individue sal na afloop van die kompetisie aanlyn moet verklaar dat hul die vraestel op hulle eie (sonder enige hulp van medeleerders, ouers, onderwysers of enige iemand anders) voltooi het. Dit moet die leerder se EIE werk wees.

24) Geen personeellid van Die Burger/Beeld/Volksblad/Netwerk24/Cum Laude Media of van KnowBrainer Academy se gesinslede mag aan die kompetisie deelneem nie.

25) Die finaliste/wenners sal ook in Die Burger/Beeld/Volksblad/Netwerk24 & Cum Laude Media aangekondig word.

26) Die wenners moet bereid wees om in die openbaar en in media te verskyn teen geen vergoeding nie.

27) Die organiseerders onderneem om die pryse binne ’n redelike tyd aan die wenners te versprei.

BELANGRIKE DATUMS:

1 Mei Alle laerskoolleerders wat wil deelneem moet geregistreer wees.

3 Mei Die laerskool-uitdunronde vind plaas om 14:00 onder eksamentoestande by die skool. Die uur begin sodra die leerder inteken op die skakel wat in die e-pos aangestuur is.

9 Mei Alle hoërskoolleerders wat wil deelneem moet geregistreer wees.

10 Mei Die hoërskool-uitdunronde vind plaas om 14:30 onder eksamentoestande by die skool. Die uur begin sodra die leerder inteken op die skakel wat in die e-pos aangestuur is.

27 Julie Finale ronde vind plaas in die Hoërskool Brackenfell (Wes-Kaap), Hoërskool Florida (Gauteng) en Hoërskool Sentraal (Vrystaat). Finaliste sal vroegtydig verwittig word.

Vir meer inligting besoek www.cumlaudemedia.com , die facebook blad www.facebook.com/CumLaudeMedia/ of e-pos wiskunde@cumlaudemedia.com

Indien u ‘n elektroniese weergawe van die reëls en regulasies verlang, stuur asb vir ons ‘n e-pos waarin die dokument versoek.

32 thoughts on “Wiskundekompetisie 2019 – Reëls en regulasies

  1. Goeie dag
    Soos verlede jaar, word geen melding van Mpumalanga gemaak nie. Mag skole van Mpumalanga inskryf?
    Sal die stelsels hierdie jaar in plek wees met die eerste rondte? Verlede jaar het ‘n klomp koshuiskinders alternatiewe vervoerreëlings getref om die Vrydagmiddag agter te bly vir die kompetisie. Nodeloos om te sê, nie een van hulle wou met die tweede poging weer die kans waag nie.

    1. Hallo Rina, hulle is welkom om deel te neem aangesien Netwerk24 nasionaal gelees kan word. Laat weet ons asb jou skool en kontakbesonderhede dat ons direk met jou kontak kan maak. Stuur asb. ‘n e-pos na wiskunde@cumlaudemedia.com
      Sedert die stelsel verlede jaar gefaal het, het ons 4 verskillende rondes suksesvol aangebied sonder enige probleme.

  2. Goeie dag,

    “3) Deelname word beperk tot leerders in skole van die Wes-en Oos-Kaap, Gauteng en Vrystaat in publieke en private skole. Geen tuisskole of wiskundesentrums se leerders kan vir die kompetisie inskryf nie.”

    Hoekom word daar teen tuisskool leerders gediskrimineer? Lees tuisskool leerders en/of hul ouers nie ook Die Burger/Beeld/Volksblad/Netwerk24 & Cum Laude Media nie? Ek is baie teleurgesteld dat ons kinders hierdie kans om uit te blink ontneem word!

    1. Hallo Sorieta, weens logistieke uitdagings om tuisskole te akkommodeer kan tuisskole of wiskundesentrums nie vir die kompetisie inskryf nie.

  3. Goeie more.
    Kan ek al my leerders op my persoonlike e-pos registreer of moet elkeen sy eie e-pos adres hê?

    1. Hallo Marlene
      Ja, elkeen moet hulle eie e-posadres hê, aangesien dit die profiel is waarop hulle gaan aanmeld en op die dag die kompetisie aflê.

  4. My kind is in laerskool pieterburg in Polokwane mag ons dan nie deelneem nie
    dankie
    0826320356

    1. Hallo, julle is welkom. Finaliste moet net bereid wees om op eie onkoste te reis na een van die finale rondes (wat in die Wes-Kaap, Gauteng en Vrystaat aangebied word).

  5. Waarom kan tuisskolers nie inskryf vir hierdie kompetisie nie?
    Wat is die alternatief?
    Groete

    1. Hallo Annene, weens logistieke uitdagings om tuisskole te akkommodeer kan tuisskole of wiskundesentrums nie vir die kompetisie inskryf nie.

    1. Hallo Lune, julle is welkom. Finaliste moet net bereid wees om op eie onkoste te reis na een van die finale rondes (wat in die Wes-Kaap, Gauteng en Vrystaat aangebied word).

  6. Goeie dag

    Vrystaat en Gauteng is binne bereik vir leerders van Noord-Wes, word hulle uitgeskakel of kan hulle inskakel by een van hierdie twee provinsies?

    1. Dis reg. Hulle kan die uitdunronde by hulle skole (onder toesig) aflê en indien hulle deurdring na die finale ronde, kan hulle dit aflê in die Vrystaat of Gauteng. Reis-en verblyfkostes is vir die finaliste se eie rekening.

    1. Die vraestel slegs in Afrikaans beskikbaar. Daar is heelwat tweetalige skole wat steeds deelneem. Verlede jaar se wenner was Engelssprekend.

  7. Is die kompetisie beskikbaar in Engels ook? Ons is n tweetalige skool. Het verlede jaar deelgeneem.

    1. Die vraestel slegs in Afrikaans beskikbaar. Daar is heelwat tweetalige skole wat steeds deelneem. Verlede jaar se wenner was Engelssprekend.

  8. Ek het 13 leerlinge geregistreer van Laer Volkskool (Graaff-Reinet) elkeen op hul eie e-posadres. My skoolhoof het nog nie ‘n e-pos ontvang dat die leerlinge geregistreer is nie, wil graag seker maak die registrasie is deur. Gaan die toetsvraestel na die leerlinge se eie e-pos gestuur word of waar kan hulle dit kry om te oefen.

    1. Hallo Erika, die leerders behoort elkeen ‘n e-pos te ontvang. Die skoolhoof sal dit nie ontvang nie. Laat hulle ook kyk in die “spam/junk mail” folder. Dit beland soms daar.
      Hulle klik op daardie skakel (in die e-pos) en meld aan. Hulle sal dan dadelik toegang hê tot die toets/oefenvraestel.
      Stuur asb die leerders se name wat nie ‘n e-pos ontvang het nie na wiskunde@cumlaudemedia.com. Meld dan ook in daardie e-pos dat julle reeds seker gemaak het die e-pos was nie in die “spam/junk mail” folder nie.
      Laat weet gerus indien daar enige ander vrae is.

  9. Hallo. Moet die laerskool leerders stiptelik om 14:00 op 3 Mei 2019 die uitduntoets doen of kan hulle later begin? Tot wanneer mag hulle die toets doen op 3 Mei 2019?
    Dankie en groete

    1. Skole sal tot 17:00 tyd hê om die vraestel te voltooi. Elke leerder se 60min. begin sodra hulle aangeteken het.

  10. Hoe werk die puntesisteem op die oefenvraestelle. Hoeveel punte vir reg en hoeveel minus julle vir verkeerd.
    Baie dankie

    1. Die puntetoekenning werk as volg:
      *5 punte vir elke korrekte antwoord
      *-2 punte vir elke verkeerde antwoord
      *0 punte vir enige onbeantwoorde vraag

      Leerders kry onmiddellik na afloop terugvoer hoeveel vrae korrek, verkeerd en onbeantwoord is.

  11. Ek as Onderwyser wil net weet hoe die puntesisteem werk in die oefenvraestelle om my leerders te se hoeveel hulle reg en hoeveel hulle verkeerd het.

    1. Die puntetoekenning werk as volg:
      *5 punte vir elke korrekte antwoord
      *-2 punte vir elke verkeerde antwoord
      *0 punte vir enige onbeantwoorde vraag

      Leerders kry onmiddellik na afloop terugvoer hoeveel vrae korrek, verkeerd en onbeantwoord is.

  12. Verstaan ek die punte toekenning reg. As jy 18 vrag reg het en dan 2 verkeerd kry jy 90–4= 86 en as jy 18 reg het en 2 nie geantwoord het ni kry jy 90?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *