Graad 10 tot 12 wiskunde leerders, berei voor vir die grootste aanlynwiskunde kompetisie in Afrikaans! Die koerante Die Burger , Beeld en Volksblad sal in samewerking met die aanlyn nuusdiens, Netwerk24 , byna R150 000 in prysgeld aanbied. Daar is meer goeie nuus – inskrywings is gratis.
Die Burger het verlede jaar die wiskunde-kompetisie bekendgestel en het skole in sy opvanggebied die geleentheid gebied om deel te neem. “Die aantal inskrywings verlede jaar het ons verwagtinge oortref,” het mnr. Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, gesê . “Ons wou voortbou op die aanvanklike sukses met ons susterpublikasies.” Hoërskoolleerlinge in die koerant se verspreidingsareas het nou die geleentheid om hul gesyferdheidsvaardighede aan die res van Suid-Afrika te toon.
Leerders en hul skole kan groot prysgeld wen! Eerste plek: R20 000 (en R20 000 vir u skool).Tweede plek: R15 000 (en R15 000 vir jou skool). Derde plek: R10 000 (en R10 000 vir jou skool).
Wiskunde onderwysers moet leerders inskryf wat wil deelneem. Besoek www.cumlaudemedia.com en klik op die wiskunde kompetisie banier. Volg dan al die trappe.Onthou, inskrywings is gratis en die wiskunde-onderwyser moet leerders vroegtydig registreer. Registrasie sluit op Woensdag 2 Mei 2018 en die eerste rondte vind plaas op Vrydag 4 Mei 2018 aanlyn by die skool waar die leerder geregistreer is. Onderwysers sal toesig moet hou oor die leerders wat hulle vir die kompetisie geregistreer het.
Sestig finaliste (20 per streek) sal op Saterdag 28 Julie na die onderskeie finale genooi word.
Finaliste van Die Burger se opvanggebied sal die finale by Curro Durbanville (Wes-Kaap) skryf, terwyl finaliste van Beeld aan die Hoërskool Florida en Volksblad se finaliste by Hoërskool Sentraal (Vrystaat) sal skryf. Elke finalis wat die finale rondte bywoon, sal R1 000 ontvang as ‘n bemoedigingsprys.