Reëls en regulasies: Wiskundekompetisie 2021

1) Enige leerder wat gedurende 2021 in graad 6 of 7 is, kan aan die Wiskundekompetisie vir laerskoolleerders 2021 deelneem. Vir die hoërskoolkompetisie kan enige leerder wat gedurende 2021 in graad 10, 11 of 12 is, deelneem.

2) Deelname is gratis en die vraestelle sal in Afrikaans wees.

3) Leerders in publieke en private skole (in enige provinsie van Suid-Afrika) mag deelneem. Geen tuisskole of wiskundesentrums se leerders kan vir die kompetisie inskryf nie.

4) Daar sal twee vraestelle wees: een vir laerskoolleerders en een vir hoërskoolleerders.

5) Die kompetisie bestaan uit twee rondes: ʼn uitdunronde en ʼn finale ronde. Beide die rondes sal tuis afgelê kan word.

6) Leerders en/of wiskunde-onderwysers moet deelnemers voor/op 9 Junie 2021 (vir die laerskoolkompetisie) en voor/op 2 Junie 2021 (vir die hoërskoolkompetisie) aanlyn registreer. Volg die onderstaande registrasieprosedure:

6.1) Registreer by www.cumlaudemedia.com*. (Vir die laerskoolkompetisie klik op die laerskoolinskrywingsblokkie. Vir die hoërskoolkompetisie klik op die hoërskoolinskrywingsblokkie.)

6.2) Die registrasieproses vir die laerskool sluit 9 Junie om 17:00. Vir die hoërskoolleerders sluit registrasies op 2 Junie om 17:00.

6.3) Deelnemers kan self registreer of onderwysers kan deelnemers registreer.

6.4) Indien die registrasie suksesvol was, sal die leerder ʼn bevestigende e-pos binne ʼn uur na registrasie, met inligting oor die wiskundekompetisie ontvang.

6.5) Die uitdunrondes vind plaas op 11 Junie (laerskool) om 14:00 en op 4 Junie (hoërskool) om 14:30. Die skakel na die vraestel sal dan aktief wees. Deelnemers klik dan op die skakel (wat vroeër per e-pos aan hulle gestuur is) om die toets af te lê.

6.6) Deelnemers wat suksesvol geregistreer is, sal toegang hê tot ʼn oefenronde wat uit 10 vrae bestaan, om seker te maak hulle verstaan die stelsel en sodat enige aanlynprobleem vooraf uitgesorteer kan word.

7) Deelnemers beantwoord 20 vrae. Hulle kry 60 minute om die vrae te beantwoord. Ons vra dat deelnemers die kompetsisie onder eksamentoestande moet voltooi.

8) Deelnemers moet verseker dat hulle betroubare toegang tot die internet het, asook ʼn betroubare rekenaar, tablet of selfoon waarop hulle die vraestelle kan aflê.

9) Ouers/Voogde moet verseker dat die uitdunronde onder behoorlike toesig (eksamentoestande) afgelê word. Geen sakrekenaars of aanlynrekenaars mag gebruik word nie. Slegs ʼn potlood en skoon papier (om berekeninge op te doen) is toelaatbaar.

10) Dit is deelnemers se verantwoordelikheid om seker te maak dat hul “firewalls” en sekuriteitstelsels nie die webwerf blokkeer nie. Deelnemers moet ook Chrome of Firefox as bedryfstelsel gebruik vir optimale funksionering van die webwerf.

11) Deelnemers kan die uitdunronde ook op tablette of selfone aflê.

12) Deelnermers se individuele tye wat dit neem om die vraestel te voltooi, sal ook in ag geneem word. Verkeerde antwoorde sal negatief gemerk word. Indien daar meer as een leerder is wat tydens die uitdunronde/finale ronde 100% behaal het, sal die vinnigste tyd die volgende oorwegende faktor wees by die bepaling van die finaliste/wenner.

13) Weens verfikasie van punte sal geen punte na die uitdunronde bekend gemaak word nie.

14) Sestig finaliste per laer- en hoërskoolkompetisie, sal uitgenooi word na die finale ronde. Finaliste word vir die finale ingedeel volgens die provinsiale keuse wat  tydens registrasie uitgeoefen word. Maak asb. seker al die inligting is korrek aangesien dit moeilik is om deelnemers te skuif.

15) Die finale ronde vir Laerskoolleerders vind op Saterdag 11 September plaas en vir Hoërskoolleerders op Saterdag 4 September. Besonderhede oor die finale ronde sal direk met die finaliste gekommunikeer word. 

16) Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.

17) Geen individuele terugvoer sal aan deelnemers gegee word nie. Algemene terugvoer kan wel aan die deelnemende skool gestuur word.

18) Die organiseerders behou hulle die reg voor om nie al die pryse toe te ken nie en hulle beslissing is finaal.

19) Media24/Die Burger/Beeld/Volksblad/Netwerk24/Cum Laude Media behou hom die reg voor om foto’s van die finaliste te publiseer (gedruk of aanlyn). Dit kan ook in toekomstige bemarkingsmateriaal gebruik word. Deelnemers/finaliste sal nie vergoeding daarvoor ontvang nie.

20) Prysgeld (Nasionale wenners):

Laerskool:

  • 1ste plek:R15 000 (leerder) & R15 000 (skool)
  • 2de plek:R10 000 (leerder) & R10 000 (skool)
  • 3de plek:R5 000 (leerder) & R5 000 (skool)

Indien van die plekke gedeel word, sal die bedrag gelykop gedeel word.

Hoërskool

  • 1ste plek:R20 000 (leerder) & R20 000(skool)
  • 2de plek: R15 000 (leerder) & R15 000 (skool)
  • 3de plek:R10 000 (leerder) & R10 000 (skool)

Indien van die plekke gedeel word, sal die bedrag gelykop gedeel word.

21) Prysgeld (Provinsiale wenners):

Laerskool:

Die wenner van die laerskoolkompetisie ontvang R3 000. Tweede plek: R2 000 en derde plek: R1 000. Indien van die plekke gedeel word, sal die bedrag gelykop gedeel word. Indien van hierdie plekke beklee word deur nasionale wenners, sal die leerder slegs die nasionale prysgeld ontvang

Hoërskool:

Die wenner van die hoërskoolkompetisie ontvang R5 000. Tweede plek: R3 000 en derde plek: R2 000. Indien van die plekke gedeel word, sal die bedrag gelykop gedeel word. Indien van hierdie plekke beklee word deur nasionale wenners, sal die leerder slegs die nasionale prysgeld ontvang.

22) Deelnemers wat hul aan oneerlike praktyk skuldig maak, se inskrywings sal outomaties gediskwalifiseer word. Individue sal voor die kompetisie aanlyn moet verklaar dat hul die vraestel op hulle eie (sonder enige hulp van medeleerders, ouers, onderwysers of enige iemand anders) voltooi het. Dit moet die leerder se EIE werk wees.

23) Geen personeellid van Die Burger/Beeld/Volksblad/Netwerk24/Cum Laude Media of van KnowBrainer Academy se gesinslede mag aan die kompetisie deelneem nie.

24) Die finaliste/wenners sal ook in Die Burger/Beeld/Volksblad/Netwerk24 & Cum Laude Media aangekondig word.

25) Die wenners moet bereid wees om in die openbaar en in media te verskyn teen geen vergoeding nie.

26) Die organiseerders onderneem om die prysgeld binne ʼn redelike tyd aan die wenners te betaal. Neem kennis: Betalings kan tot twee maande neem.

27) Die organiseerders behou die reg voor om veranderinge aan die reëls en regulasies te maak. Deelnemers en/of skole sal van enige veranderinge ingelig word.

 

*BELANGRIKE DATUMS:

  • 9 Junie: Alle laerskoolleerders wat wil deelneem moet geregistreer wees.
  • 11 Junie: Die laerskool-uitdunronde vind plaas om 14:00 onder eksamentoestande by die huis. Die uur begin sodra die leerder inteken op die skakel wat in die e-pos aangestuur is.
  • 2 Junie: Alle hoërskoolleerders wat wil deelneem moet geregistreer wees.
  • 4 Junie:Die hoërskool-uitdunronde vind plaas om 14:30 onder eksamentoestande by die huis. Die uur begin sodra die leerder inteken op die skakel wat in die e-pos aangestuur is.
  • 11 September:Finale ronde vir Laerskoolleerders vind plaas.
  • 4 September: Finale ronde vir Hoërskoolleerders vind plaas

Al die nuutste nuus en inligting sal op Cum Laude Media se Facebook-bladsy www.facebook.com/CumLaudeMedia/ en webblad www.cumlaudemedia.com gekommunikeer word. Stuur gerus direkte kommunikasie rondom die kompetisie na: wiskunde@cumlaudemedia.com

*Sekere antivirus programme kan die webwerf blokkeer. Skakel asb. die antivirus program tydelik af en gaan voeg die webadres by die lys van betroubare webwerwe (trusted sites). Skakel die antivirus daarna weer aan.

16 thoughts on “Reëls en regulasies: Wiskundekompetisie 2021

    1. Hallo Darius
      Hulle kan daaraan deelneem, maar sal glad nie vir die finale rondes kan kwalifiseer nie. DIt kan dalk lekker blootstelling wees, maar dit is uitdagend. Ons wil graag liefde vir Wiskunde aanwakker en nie noodwendig ‘n graad 9-leerder afskrik vir die toekoms nie.
      Groete
      Wiskunde-span

    1. Hallo Fanie, jy moet registreer op ons tuisblad. Klik net op die regte skakel.
      Jy lê die kompetisie tuis (aanlyn) af.
      Groete

    1. Hallo Eleze, leerders van Namibië is welkom om deel te neem aan die uitdundronde. Dit kan goeie oefening wees.
      Hulle sal ongelukkig nie kan deurdring na die finale ronde nie, aangesien die kompetisie (en prysgeld) slegs vir Suid-Afrikaanse leerders is.

    1. Hallo Alida
      Deelnemers sal tot 17:00 geleentheid hê om die vraestel af te lê. Indien die deelnemer die volle 60 minute wil gebruik, moet hulle op die laatste 16:00 begin.

  1. Tot hoe laat op Vrydag, 11 Junie (laerskool) kan die leerders inskakel om vir die eerste uitdunronde?

  2. Moet leerders 14:00 begin, of het hulle tyd vanaf 14:00 en dan 60min vanaf hulle begin om te voltooi?

    1. Hallo Shirma
      Hulle kan enige tyd vanaf 14:00 begin. Elke deelnemer se 60minute begin sodra hulle aanmeld. Die laatste wat hulle dus kan begin om die volle 60 minute te gebruik is om 16:00
      Geniet die kompetisie
      Rikus

  3. Hallo, Is die Hoërskool finaal op Saterdag 4 Sept of op Vrydag 3 September? (want vanjaar is daar nie ‘n Vrydag 4 September nie)

    1. Dankie vir jou navraag. Dit was ‘n tikfout. Die Hoërskool finale is Saterdag 4 September.
      Finaliste sal binnekort die finale reëlings ontvang.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *